Hierdie pragtige, talentvolle sangeres is na drie jaar terug met ‘n splinternuwe album getiteld “Tokkelos”.
Karen eindig in 2003 onder die top 7 van daardie jaar se “Idols”-kompetisie en wen die daaropvolgende jaar die Kyknet “Zing”- sangkompetisie saam met Renee Kruger. Sy het daarna hard gewerk en vir haarself ‘n stewige plek in die Afrikaanse musiekmark oopgesing.
Karen se nuwe album, “Tokkelos”, bestaan uit 15 oorspronklike snitte waarvan die meeste lekker ritmiese dansmusiek is wat maklik en gerieflik luister. Daar is wel ook ‘n paar pragtige ballades opgeneem wat Karen se besonderse stem en vertolkingsvernuf duidelik illustreer. Die snit “Engel”, uit haar eie pen, is ‘n absolute hoogtepunt en getuig van die volwassenheid wat sy die afgelope paar jaar as individu en kunstenaar bereik het.
‘n Musiekvideo is van die titelsnit, “Tokkelos” gemaak en alles dui daarop dat dit vir haar ‘n groot treffer gaan wees. ‘n Volgende hoogtepunt op die album is die twee duette wat sy saam met die uitstekende jong komponis en sanger, Viljoen Retief, sing.
Die liedjie, “Vier wit mure”, is een van die Huisgenoot Tempo liedjieskryf kompetisie se finalis liedjies en is ook op die gala aand met groot welslae deur die twee talentvolle kunstenaars uitgevoer.
lees meer
Karen het in 2010 ‘n goeie jaar gehad deur by twee van SA rugby se Drie-nasie toetse die nasionale volkslied te sing - op Loftus Versveld, asook Absa Park in Bloemfontein. Sy is ook in 2010 uitgenooi om tydens die Huisgenoot Skouspel in die Sun City Superbowl op te tree. ‘n Hoogtepunt op enige uitvoerende kunstenaar se CV.
Hierdie jong, energieke kunstenaar het almal aan die praat en gaan nog lank met ons wees.
Tokkelos word uitgegee deur Snyman Musiek Produksies, SMP 028.
terug