![](kunstenaars/willem/willem-botha.jpg)
Meer oor willen botha
Dié 24-jarige, Willem Botha, het die musiekbedryf met dryfkrag en deursettingsvermoeë betree en duidelik gemaak dat hy hier is om te bly! Sy nuutste album, Sê My Nou, is vroeg 2010 as nominasie benoem by die 16de MTN SAMA (South African Music Awards) Toekennings in die kategorie Beste Sokkie Dans Album. Willem vertolk tans een van die hoofrolle in Deon Opperman se nuwe musiekblyspel, TREE AAN! en hard aan die werk aan ’n nuwe album wat later in 2011 uitgereik sal word.
Hy is gebore en getoeë in Riversdal. Hier het hy saam met Pa, Theunis, Ma, Sarie en ouboet, Louis grootgeword. Op skool reeds het hy uitgeblink veral in perdry en was verskeie kere die Kinder en Junior Arabierperdruiter Kampioen in die land. In sy matriekjaar aan die Hoër Landbouskool Oakdale het hy aan Die Burger se Plusster-kompetisie deelgeneem en gewen. 2006 was ’n warrelwind jaar: Hy het gaan Drama studeer aan die Universiteit van Stellenbosch, maar dit is kortgeknip na slegs vyf maande. In Mei het hy terwyl hy op toer was saam met Nicholis Louw in Port Elizabeth ’n oudisie afgelê vir Idols. In Augustus word hy as naaswenner in kykNET se Afrikaanse Idols-reeks gekroon en ’n week later spog hy met ’n platekontrak van Sony Music. In Oktober 2007 trek hy sak en pak na Johannesburg. Sy debuutalbum, Kô Ma Hier, word later die jaar uitgereik, hy wen Huisgenoot se Tempo-Toekenning as Beste Nuweling en word die gesig van House & Home.
ALBUMS
![](kunstenaars/willem/album-willem.jpg)