Dis altyd verblydend om met ‘n nuwe kunstenaar wat boonop met nuwe werk vorendag kom kennis te maak. Suzanne Rentzke se musiek is oorspronklik, ernstig, vol emosie en nostalgie, en deurspek met onthou-oomblikke en persoonlike ervarings.
Wanneer jy die eerste keer na Suzanne Rentzke luister, herinner sy jou aan haar stylvolle vroulike voorgangers van Afrikaanse musiek. Tog verras sy met ‘n vars, ongekunstelde, maar tog klassieke aanslag tot haar eie musiek en die van ander ervare liedjie skrywers.
Suzanne het op Darling aan die Kaapse weskus groot geword en in 2000 aan die Hoër Meisiesskool Paarl gematrikuleer, waartydens sy reeds talle sangtoekennigs verower het. In 2001 was sy gekies as deel van die Suid-Afrikaanse span wat deelgeneem het aan die World Championships of Performing Arts in Los Angeles, Amerika.
In 2005 het sy by verskeie teaters opgetree met haar solo vertoning, Ek hou van blou. Sederdien het sy by verskeie feeste soos die KKNK, Kalahari Kuierfees, Innibos Kunstefees, Aardklop, Volksbladfees en die Bravo! Fees in Mosselbaai op getree. Tans kry Suzanne klassieke sangopleiding by die befaamde opera sangeres, Emma Renzi.
lees meer
Suzanne tree ook gereeld by korporatiewe geleenthede asook vroue-oggende op en het al verhoë met bekende sangers soos, Rina Hugo, Laurika Rauch, Coenie de Villiers, André Schwartz, Jannie Moolman, Manuel Escorcio, Mathys Roets, Romanz, Nianell en verskeie ander gedeel.
Suzanne Rentzke is beslis ‘n nuwe sopraan stem in Suid-Afrika om dop te hou!
terug